← Terug na Blogs

Trou My Nou Blog

Liefste Bruid - Alles werk uiteindelik uit

Gepubliseer op 29 June 2026 deur My Store Admin

Liefste Bruid - Alles werk uiteindelik uit

Liefste bruid,

Eerstens, baie geluk met julle verlowing! Ek is seker jy doen op hierdie stadium alles met jou linkerhand, net sodat daardie ring mooi kan wys. En eerlik? Jy mág. Hierdie is so ’n mooi, opwindende en kosbare seisoen van julle lewe.

Probeer om dit regtig in te neem. Geniet elke oomblik, want alles gaan so vinnig verby. Van julle verlowingsfotosessie, tot jou kombuistee, bachelorette en al die klein oomblikke tussenin — dit voel soos maande se beplanning, maar voor jy jou oë uitvee, staan jy  voor die kansel in jou pragtige rok.

En dan kom die laaste maand…

Die senuwees? Dis normaal.

Jou kop begin hardloop. Jy dink aan alles — groot goed, klein goed, goedjies waaraan niemand anders eers sou dink nie. Ek onthou hoe ek saans in die bed gelê het en die hele troudag van begin tot einde in my kop afgespeel het.

“Ek gaan wakker word, dan gaan ek koffie drink. Dan gaan die make-up artist daar aankom. Dan kom die bridesmaids… wag, wanneer gee ek vir hulle die pyjama sets? Dalk Vrydagaand by die braai? Nee wag, ek wil hê daar moet foto’s daarvan wees, so miskien Saterdagoggend. Maar gaan almal betyds wees? Gaan die make-up artist onthou wat ons by my proefgrimering gedoen het? Hoe kry ons die ringe by die ringdraers uit? Wie maak die kapeldeure oop vir die bridesmaids? En wie maak die deur oop wanneer ek instap?”

En so gaan dit aan.

Liewe bruid, haal asem. Alles werk uit.

Regtig.

Die dag is groter as die klein goedjies. En die droomspan wat jy gekies het — jou fotograaf, jou venue, jou koördineerder, jou grimeerkunstenaar, jou haarkunstenaar, jou DJ, jou bloemiste — hulle is daar om jou te help. Dis nie hulle eerste troue nie.

En weet jy wat? Selfs as iets nie presies volgens plan verloop nie, beteken dit nie dat jou dag verwoes is nie.

Op my troudag was daar ook goed wat “verkeerd” geloop het. Goedjies waaroor ek nou lag, want die waarheid is: die dinge wat regtig saak gemaak het, was meer as perfek. En die beste van alles? Niemand het dit agtergekom nie. Nie eers ek nie. 

Die DJ was laat vir die seremonie. Op daardie oomblik sou dit seker soos ’n groot krisis kon voel, maar dit het uitgewerk. Die musiek het gespeel, die mense het geglimlag, en ek het steeds afgestap na die man van my drome.

Daar was nie genoeg blomme vir my arch nie. Nou ja, om eerlik te wees, dit was ’n flippen groot arch! Maar weet jy wat? Dit het steeds mooi gelyk. Op die foto’s sien ek nie wat “kort” was nie. Ek sien liefde. Ek sien ons. Ek sien die begin van ons huwelik.

En ná die seremonie het my hare begin uitsak. Dit was Maart, dit was warm, en my perfekte haarstyl het besluit hy gaan nie die hele aand saamwerk nie. Maar my man? Hy het steeds gedink ek is die mooiste vrou daar, en op die einde van die dag was dit al wat saak gemaak het.

Onthou, jou troudag is nie perfek omdat alles presies volgens plan gebeur nie. Jou troudag is perfek omdat dit julle dag is.

Dit is die dag waarop jy met jou beste vriend trou. Die dag waarop julle naaste mense saam met julle feesvier. Die dag waarop jy lag, huil, hande vashou, diep asemhaal en vir ’n oomblik besef: “Hierdie is dit. Hierdie is ons begin.”

So wanneer die senuwees begin inskop, wanneer jou lysie langer raak, wanneer jy wonder of jy aan alles gedink het — onthou net: jy hoef nie elke klein detail perfek te beheer nie.

Jy moet net teenwoordig wees.

Kyk rond. Neem dit in. Hou jou man se hand ’n bietjie langer vas. Lag oor die klein goedjies. Dans, selfs al is jou hare nie meer perfek nie. Geniet die mense wat daar is om julle dag saam julle te vier 

Aan die einde van die dag gaan jy nie onthou of elke blom op die regte plek was nie. Jy gaan onthou hoe jy gevoel het. Jy gaan onthou hoe hy na jou gekyk het. Jy gaan die liefde waarmee die dag toegevou is, onthou.

Liefste bruid, alles werk uit.

En selfs die goed wat nie uitwerk soos jy beplan het nie, word deel van die storie waaroor jy later met ’n glimlag praat.

Geniet hierdie seisoen. Geniet jou dag. En onthou: die mooiste oomblikke is dikwels die wat jy nooit kon beplan nie. 🤍

Het jy hierdie artikel geniet?

Lees nog trou-inspirasie, praktiese wenke en eerlike raad op die Trou My Nou Blog.

Lees Meer Blogs Vind Verskaffers

Nog geen kommentaar nie

Los ’n kommentaar